Antwoord van Flip Buys :
- Ligging – Die beginpunt van ’n huis bou en ’n tuiste skep is om die regte ligging te kies, waar jy weet dat jy oor twintig jaar nog vry, veilig en tuis gaan voel, waar jy nie weer uitgedryf gaan word nie en wat ook ʼn vesting sal wees waar jy en jou kinders nie oor 50 jaar vreemdelinge gaan wees nie. Jy wil ook seker maak van die ligging van die dorp, stad of woongebied waar jy so ’n langtermynverbintenis maak. Die ankerdorpe en konsentrasieplan wat ons Beweging ná deeglike navorsing bekendgemaak het, gee ’n goeie idee van die beste liggings in die land.
- Bouplan – Die tweede stap is ’n argiteksplan om seker te maak dat jou huis so ontwerp word dat dit jou huis is – ’n plek waar jy en jou mense sal kan tuis voel en waar julle veilig kan wees sonder dat vreemdelinge julle hiet en gebied. Dit is die rede waarom ons Beweging vandag ’n omvattende “argiteksplan” vir selfbestuur aankondig. Dis ’n plan om ’n nasionale tuiste te bou waar ons nie net as enkelinge nie maar as ’n kultuurgemeenskap sal kan tuis voel – ’n kulturele huis. Dis belangrik om sorg te dra dat jou finansiële planne ook reg moet wees voordat jy begin bou. Dit beteken nie jy moet vooraf al die geld hê nie, maar dat jy betyds kyk hoeveel jy het, hoeveel jy moet leen, en hoeveel jy op ander maniere, soos in die vorm van aandele, moet bekom.
- Gesin en gemeenskap – Die derde stap is om jou gemeenskap saam te bind, want niemand wil eensaam en alleen bly nie. Ons is nie net landsburgers nie, maar ook kulturele burgers, lede van ’n eeueoue kultuurgemeenskap wat mekaar nodig het, wat mekaar se waardes deel en wat by mekaar veilig is. ’n Mens bou nie vir jou ’n huis om jouself van jou medemens af te sonder nie, maar juis om jou in staat te stel om saam in daardie dorp te bly. Dis net so belangrik dat jou en jou gesin se ingesteldheid reg moet wees voordat jy begin bou. Enigiemand wat ’n kaal stuk grond sien, wonder of die argiteksplan ooit sal werk en of die huis ooit sal klaarkom. Dit kos visie, beplanning, harde bouwerk en volharding om ’n huis klaar te bou, veral as dit ’n tuiste vir ’n hele gemeenskap moet wees. Jy sal uitgelag word dat jy lugkastele bou, deur mense wat self in sandkastele in die pad van ’n inkomende gety sit. Moenie jou aan hulle steur nie, hou net aan bou.
- Fondasie – Die fondasie moet stewig wees, want die hele huis word daarop gebou. Die fondasie is die sterk selfhelporganisasies wat die grondslag van die huis gaan vorm, want jy wil nie alleen en op sand bou nie.
- Bouers – Niemand bou so goed soos iemand wat ’n huis vir homself en sy geliefdes bou nie, want dis joune. Ons sal almal moet help om hierdie kulturele huis so vinnig en so goed as moontlik te bou. Bouers is nodig, en nie net bydraers nie. Baie teenstanders sal raas en blaas om die bouwerk te probeer keer, maar dis belangrik om net vas te byt en aan te hou bou.
- Kamers – Geen huis is volledig sonder al die noodsaaklike vertrekke nie. Al die kamers moet daar wees – soos ’n sitkamer, kombuis, slaapkamer en eetkamer. ’n Gemeenskap het kulturele leefruimtes en vertrekke nodig soos skole, kolleges, universiteite, stede, dorpe en dienste, woongebiede, veiligheid, maatskaplike sorg, besighede, werkplekke, media, regspraak, erfenisbewaring, openbare ruimtes en ’n mooi tuin en omgewing.
- Mure – Die mure moet hoog genoeg gebou word sodat daar genoeg ruimte kan wees. Dit gaan tyd neem, want selfs die hoogste muur word gebou deur steen vir steen op mekaar te pak. Die bou van mure is gevolglik ’n proses en nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Hoe groter die kolleges, privaat skole, universiteite en dorpe wat ons bou, hoe hoër is die mure van ons gemeenskap se huis en hoe vryer, veiliger en voorspoediger sal ons wees.
- Dak – Die dak kom laaste. Geen dak word opgesit voordat die mure hoog genoeg is nie, want ’n dak kan nie in die lug hang nie. Die hoogte van die dak en die opsit daarvan word bepaal deur die hoogte van die mure en die spoed waarteen gebou word. Die dak is nie die huis nie, dis ’n belangrike finale fase van die bou van die huis. Dis die erkenning dat die huis en al sy kamers klaar gebou is.
- Afronding en inrigting daarvan – Die huis word nou afgerond en ingerig soos jy en jou gemeenskap dit wil hê. Die feit dat jy self die plek gekies, die huis laat ontwerp en hard daaraan gebou het, is die beste waarborg dat jy en jou geliefdes daar weer tuis sal voel.