Antwoord van Flip Buys :
As beginpunt van enige demografiese studie moet gekyk word na getalle.
In 2011 was daar sowat 2,71 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika. Alhoewel Afrikaners nie as ʼn amptelike groep op enige sensusvorm verskyn nie, kan daar inligting uit bestaande demografiese kategorieë geëkstrapoleer word om akkurate getalle en tendense na te spoor. Afrikaners het dieselfde demografiese pad gestap as die meeste Westerse bevolkings, met ʼn afname in geboortekoers wat gepaardgaan met hoër opleidingsvlakke en huisgesinne waar albei ouers werk. Voorts word die bevolking ouer, mense begin later kinders kry en daar is ook minder kinders per gesin as in die verlede. Tesame met die eksterne druk van emigrasie, het hierdie patrone gelei tot ʼn Afrikanerbevolking wat onder demografiese druk verkeer.
Die bevolking het egter verrassende veerkragtigheid getoon. Afrikanergetalle word geprojekteer om teen 2021 effens toe te neem tot 2,75 miljoen, en dan geleidelik te daal tot ongeveer 2,68 miljoen teen 2031.
In absolute getalle is Afrikaners een van die grootste minderheidsgroepe in die wêreld – die Afrikanerbevolking se getalle is meer as die ganse bevolking van Namibië en Botswana, en is aansienlik meer as die bevolking van onafhanklike Europese lande soos Estland en Slowenië.
Ten opsigte van absolute bevolkingsgetalle is daar derhalwe meer as genoeg mense om ʼn onafhanklike land te regverdig, en indien daar ʼn land net vir Afrikaners was, sou dit die 137ste grootste land uit 195 in die wêreld wees volgens bevolking, net-net groter as Jamaika. Die demografiese uitdaging wat Afrikaners in die gesig staar, is dat alhoewel absolute getalle standvastig bly en selfs toeneem, die Afrikanerbevolking kleiner word relatief tot ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Hierdie situasie ontstaan bloot omdat ander bevolkingsgroepe vinniger groei as die Afrikanerbevolking.
Afrikaners se getalle word meer, maar hulle verteenwoordiging word kleiner, met bepaalde gevolge vir die openbare ruimtes wat Afrikaners gegun word.