Antwoord van Flip Buys :
ʼn Inkrimping van openbare ruimtes waar Afrikaners se taal en kultuur uitgeoefen kan word, noodsaak die skep van gemeenskapsruimtes waar die gemeenskap self maatskaplike infrastruktuur oprig en benut. Afrikaners se grootste uitdaging ten opsigte hiervan is die yl verspreiding van die gemeenskap.
In absolute getalle is Afrikaners meer as genoeg om sulke gemeenskapsruimtes te kan skep, maar Afrikaners is yl oor Suid-Afrika versprei. Dit bring mee dat Afrikanergemeenskappe oral waar hulle aangetref word, ʼn minderheid is en gevolglik oral waar hulle aangetref word, dieselfde probleme ervaar. Hierdie demografiese probleem verg ʼn demografiese oplossing in die vorm van konsentrasie in sekere gebiede.
Ten einde hierdie gebiede te identifiseer is ondersoek ingestel na die migrasiepatrone van Afrikaners, spesifiek met die doel om twee vrae te beantwoord:
- Waar gaan die meerderheid Afrikaners in die toekoms gevestig wees?
- Waar gaan Afrikaners in die toekoms die meerderheid wees?
Albei hierdie denkstrome is belangrik, om verskillende redes. Indien maatskaplike infrastruktuur opgerig word, moet dit in die betrokke gemeenskap gedoen word. Dus is dit van kernbelang om te weet waar hierdie gemeenskap tans is, maar ook waar die gemeenskap oor 10 of 20 jaar gekonsentreerd gaan wees.
Om dit te bepaal, is elke munisipaliteit in Suid-Afrika onder die loep geneem, en teen ʼn streng raamwerk geëvalueer wat bepaal het of die munisipaliteit ʼn plek is waarheen Afrikaners verhuis en gaan aanhou verhuis.
Verskeie faktore, onder meer ekonomiese groei, munisipale dienste, mediese sorg, opleidingsfasiliteite, kultuuromgewing, geografiese ligging asook misdaadvlakke is oorweeg, tesame met demografiese neigings.
Die uiteinde van hierdie studie is ʼn lys van nagenoeg 30 ankerdorpe waarheen die Afrikanermigrasie geskied. ’n Ankerdorp is ʼn punt waar die Afrikanergemeenskap maatskaplike infrastruktuur en gemeenskapsruimtes kan inrig, wetende dat daar ʼn aanvraag daarna in die toekoms gaan wees.