Wat is Afriforum se driebeen sukses resep?

Antwoord van Kallie Kriel :

  1. Roeping: #AfriForumSkepToekoms. AfriForum se roeping, bestaansrede en visie is om ’n beter toekoms te skep – ’n toekoms waarin ons en ons nageslag blywend vry, veilig en voorspoedig en op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan. Roeping is ons geheime wapen, aangesien dit aan ons die wete gee dat ons met die genade van Bo die voorreg het om aan iets groter as net onsself te werk. Ons bly almal mense met foute, maar ’n roeping gee aan gewone mense soos ons die deursettingsvermoë en energie om selfs onder moeilike omstandighede buitengewone sukses te behaal.
  2. Veg-en-bouplan: #AfriForumVegEnBou. Wat AfriForum se missie betref, volg ons ’n veg-en-bouplan. Dit behels kortliks dat AfriForum vír geregtigheid en téén agteruitgang veg, maar dat die organisasie terselfdertyd prakties op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede help bou wat dit vir ons gemeenskappe moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange om te sien. Die plan kan op byna elke lewensterrein toegepas word. Wat die behoud van Afrikaans op tersiêre vlak betref, kan as voorbeeld gewys word dat AfriForum in die howe veg sodat Afrikaans sy regmatige plek by openbare instellings kan kry en behou. Gelyklopend sal die Beweging selfstandige Afrikaanse instellings soos Akademia en Sol-Tech bou.
  3. Uitvoerende vermoë: #AfriForumKan. Indien AfriForum en ander instellings van die Beweging nie oor die vermoë beskik om ons plan uit te voer nie, sal ons goeie plan net ’n kreatiewe skryfoefening wees. Dit is juis dáárom belangrik dat AfriForum en die Beweging sy uitvoerende vermoë deurlopend uitbou. Baie goeie vordering is reeds in dié opsig gemaak. Wat AfriForum betref, beskik die organisasie reeds oor meer as 235 000 lede, sowat 170 personeel, 145 buurtwagte, meer as 140 AfriForum- en 70 AfriForum Jeug-takke, sowat 9 600 vrywilligers en stewige bestuur- en administrasiestelsels. Die instellings van die Beweging verteenwoordig tans gesamentlik sowat 500 000 gesinne. Daar is hoop! Hoewel die situasie in die land vandag swakker is as 20 jaar gelede, kan diegene wat reeds besef dat selfbestuur en selfstandigheid die oplossing bied, opgewonde wees oor die feit dat ons vermoë om self ’n toekoms te skep, eksponensieel sterker staan as 20 jaar gelede. Twintig jaar gelede het AfriForum nie eens bestaan nie. Die organisasie is nou 13 jaar oud en het reeds reusevordering gemaak!