Wat is die Afrikaners se grootste uitdaging?

Antwoord van Dirk Hermann :

Afrikaners se uitdaging lê nie in hul getalle nie, maar in hul yl verspreiding.

ʼn Deel van die Beweging se strategie is dus om die konsentrasie van Afrikaners te stimuleer. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het 30 dorpe en stede geïdentifiseer waarheen Afrikaners natuurlikerwys trek.

Die Solidariteit Beweging vestig dienste in die ankerdorpe en stede om toe te sien dat Afrikaners daar vry, veilig en voorspoedig kan woon. Die dienste sluit veiligheid, skole, toegang tot Akademia-sentrums, munisipale dienste, gesondheidsorg, werk, netwerke, alternatiewe regspleging, maatskaplike sorg, bejaardesorg en nog meer in die ankerdorpe in. Die dienslewering aan ankerdorpe strek nie net tot voordeel van die mense in die dorpe nie, maar help ook om ʼn veilige anker vir omliggende dorpe daar te stel.

Die konsentrasiestrategie sluit nie net konsentrasie in dorpe in nie, maar ook konsentrasie by verskeie instellings. Hoe meer gekonsentreer ʼn kultuurgemeenskap, hoe makliker kan die gemeenskap homself bestuur.