Magdalena (Lenie) Johanna de Wet/ Greyling/ Retief

Gebore : May 30, 1782

Sterf : August 31, 1855

Magdalena (Lenie) Johanna de Wet/ Greyling/ Retief


Oorsig


Lewensloop

Magdalena (Lenie) Johanna de Wet. Waardigheid te midde van rampspoed en verlies

Hoe het ons voorouers te midde van hartverskeurende omstandighede, hul teleurstelling en verlies verwerk ? Die aangrypendste voorbeeld uit ons geskiedenis oor hoe om negatiewe gevoelens te verwerk, is sekerlik die veelbewoë lewe en tragiese ervarings van b1c2d3e4f7 Magdalena (Lenie) Johanna de Wet.

Lenie is op 30 Mei 1782 op Zwarteberg, Swellendam, gebore, te Kaapstad gedoop op 29 September 1782, en op 9 Augustus 1796 te Stellenbosch met b11c2 Jan Christoffel Greyling getroud. Jan is op 11 Maart 1778 gebore en op 5 September 1779 te Graaff-Reinet gedoop. Hy was veldkornet van Swagershoek, Graaff-Reinet. Jan sterf op 33-jarige ouderdom tydens kolonel Graham se veldtog teen die Xhosas saam met landdros Anders Stockenström en elf burgers op 29 Desember 1811 te Doringnek, Zuurberg. Die weduwee Lenie word na ’n huwelik van 15 jaar agtergelaat met vier jong kinders: Abraham 12, Pieter (blind) 10, Jan 7 en Maria 4. Twee maande na haar man Jan se dood word klein Barend gebore. Vasberade gaan Lenie vrou-alleen vir drie jaar voort met die boerdery.

Op 4 Julie 1814 hertrou Lenie te Graaff-Reinet met b4c7d4 Pieter Retief, gebore op 12 November 1780 te Soetendal, Wellington. Piet en Lenie woon te Mooimeisiesfontein, Riebeeck-Oos, en later te Retiefs Pos aan die Winterberg. Tydens die Sesde Grensoorlog (1834-35) word Retief as provisionele veldkommandant van Albanie-distrik aangestel. Piet en Lenie het ses kinders van wie twee vroeg oorlede is.
As leier van die Groot Trek na Natal, het Retief met Dingaan by Mgungundhlovu onderhandel oor grondgebied. Tydens die ondertekening van die ooreenkoms is Piet Retief (58) en Lenie se oudste seun, Abraham Greyling (39) en jongste seun, Pieter (12) saam met hul 97 makkers op 6 Februarie 1838 op verraderlike wyse deur Dingaan se impi op Hlomo Amabutho (Kwa Matiwane) vermoor. Binne tien dae daarna, vroegoggend van 17 Februarie 1838, is 40 mans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes in die Voortrekkerlaers aan die Tugela-, Bloukrans- en Boesmansrivier op wreedaardige wyse deur die Zoeloes uitgemoor.

Lenie was ’n stil, waardige vrou wat Retief aanvanklik as veldkommandant en later as goewerneur van die Voortrekkers, deeglik ondersteun en geïnspreer het. Ten spyte van haar eie rampspoedige lotgevalle en smart was sy medelydend teenoor mede-trekkers, geen wonder nie dat Totius na haar verwys het as die “Al-lydensmoeder”. Na die tragiese dood van eerwaarde Erasmus Smit se seun skryf hy “maakte Mevrou Retief een oversterfhemd, halskraag, muts en aangezichtskroon-deksel voor mijn gestorven Salomon.”

Dis vandag moeilik om ’n denkbeeld te vorm van die bittere smart wat hierdie stoere Voortrekkervrou moes verduur. Na die gruwelmoord op Retief en sy geselskap het sy jare lank naby haar oorlewende kinders op Pietermaritzburg gewoon. Later het sy na Potchefstroom verhuis waar sy haar lewe in armoede geslyt het, selfs nadat die Transvaalse Volksraad in 1852 ’n ontoereikende pensioen van 10 riksdaalders (R1,50) aan haar toegeken het, sodat sy dit moes aanvul deur lekkernye te bak en te verkoop. J Stuart, skrywer van De Hollandse Afrikanen en hun Republiek, het haar daar besoek en haar beskryf as ”een waardige en deftige vrouw”.

Twee jaar en vyf maande na die moorde by Mgungundhlovu, op 7 Julie 1840, skryf Lenie ’n deerniswekkende brief aan haar oorlede man, Piet, se broer Gideon. Let veral op na die slot sin wat dui op haar positiewe gesindheid:

Aan den Heer Gideon Retief, J.A. zoon Wagenmakers Valleij
Op de Kolonie van Port Natal
genaamt Pieter Mouretz Burg
den 7 Julij 1840

Mijn waarde en nooitvergetende Broeders en Susters Retiefs en Herholt, benevens Moeder als zij nog leef,
Met deze gelegenhijt ken ik niet nalaten U Ed. te melden dat ik mijn wijnig kinderen nog vris en gezont ben door de goethijt des Heeren, wij hoop van U E. hetzelfde. Wat nuwes aanbetref weet ik UE. niet veel te melde, zover dat het met ons nog boven verwagting gaat en ook nog boven onse verdienste. Wat ons vijant aangaat, wij leef met hem nog in vrede; hij heef onse schade uijt betaald aan beeste en aan beuijt, en verder woon wij op onse erven en plaatsen, dit bou en plant en zaaij vris – maar van dit jaar heef wij nog een groot gebrek wegens de roes passeerde jaar zo erg was, maar en tegen was er moije tuijne en dan volop mielies en pampoene, en volop vlees het is dan geseg de meeste beeste vlees om de menigte kaffer beeste die onder ons is. Wat ons regerings vorm aanbetref, is tot hier toe weer in een behoorlike staat, er was voor en tijtje een kwessie onder die hoofde, maar nu is tog weer alles te vrede. Onze plaatse is ook al geinspekteerd, de ouwe heer Smit is ook nog onse leeraar, wij is ook besig aan ons nuwe kerk. – Verder ken wij hier nog bijna alles te koop krijge. Maar het is braaf en duur van onse voortrekkers, die weer van een af moet beginne, waar ik een van ben, die zo uijtgekleet ben van goet en bloet, eers door onse wreede vijande van mans en kinders ontroof, en de mazels heef mijn weer van kintskinders en een brave schoonzoon ontroof, mijn Debora haar man.

Geliefde Broeder op u verzoek zal ik u schrijve hoeveel kinders dat ik gehad heef en hoeveel dat ik nog heef. Van overlede Jan Greijling heef ik 9 kinders gehad, 3 is kleijn gestorwe, 6 heef ik groot gemaak, daarvan is dood mijn Gertruijda aan de kraam, mijn tweede dogter Maria aan de hartklopings, allebij was getrout, en mijn zoon Jan is van de kaffers vermoord, hij en zij overlede vader Jan Greijling heef haarde leven daar in de binnelant moes laat en hun liggame aan de diere moes geven voor de lant daar, en hier moes ik mijn brave man Retief met mijn jongste zoon, Pieter Retief, en met mijn oudsten zoon Abraham Greijling, ook hun liggame weer aan de diere geven, door de wreede Dingaan. Lieve broeder, mijn rampe is byna te zwaar om U Ed. daarvan een behoorlike melding te doen. U ken wel denke 2 mans en 3 kinders moes ik afgeven waar ik geen graf voor kon laat make. Van Retief is ook 2 kleijn dood, van Greijling heef ik nog in leven Piet en Barent en van Retief, Jacobus Francois – zijn vrouw en kinders is ook dood. En dan Debora Johanna, haar man en kinders ook dood. En dan heef ik nog Magdalena Margareta haar kinders is ook dood; nu heef ik van mijn 15 kinders nog 5.

Geliefde Broeder, sent mijn tog een kassie met boompjes, ik zal de transport betalen, ook wens ik te weeten of B. Hendrik Herholt mijn brief ontvangen heeft. Nu zal ik sluijten en groet UE. alleen met opregte liefde.

UE welmeenende Suster en Dogter, Magdalena Johanna de Wet Weduwe Pieter Retief

Alhoewel hierdie vrou in haar ouderdom brandarm en gebroke is van hart, het sy nog hoop. Sy wil bome plant, en daarvoor is hoop nodig, hoop om haar drome bewaarheid te sien die boompies tot volle grootte te sien groei.


Temas

No items found

Organisasies

No items found

Produkte

No items found

Eksterne Webblaaie

Aanhalings

No items found