Die Solidariteit 2030-plan in ’n neutedop

  1. Afrikaners se groot uitdaging is nie hul klein getalle nie, maar hul yl verspreiding. Groter konsentrasie is nodig. Dertig dorpe is geïdentifiseer waarheen Afrikaners natuurlikerwys trek.
  2. Konsentrasie op plekke en instellings maak dit moontlik om gemeenskapsoplossings vir skole, opleiding, veiligheid, werk, kultuur, maatskaplike en munisipale dienste en nog meer te vind.
  3. Die Vierde Industriële Rewolusie en die veerkragtigheid van Afrikaanse jongmense gaan antwoorde bring op vrae waarvoor daar nie voorheen antwoorde was nie.
  4. Solidariteit gaan steeds sy lede in die algemeen beskerm, maar gaan spesifiek fokus op rasseboelies. Daar word beplan om weer voorleggings by die VN te doen. Die nuwe tendens van vals aantygings van rassisme gaan beveg word.
  5. Die wettige belastingprotesveldtog, asook die stryd teen die misbruik van pensioengeld en die Nasionale Gesondheidsversekering, gaan verskerp word.
  6. Werkende mense gaan nou ook volgens beroepsgildes georganiseer word. Gildes gaan jongmense help om die mark te betree, gaan netwerke vorm, gaan help met opleiding en gaan opstaan vir die belange van die beroep. Teen 2030 gaan ’n reuse-netwerk van beroepsgildes rondom Solidariteit gevestig wees.
  7. Die Skoleondersteuningsentrum moet saam met vennote sorg dra dat daar in 2030 steeds wêreldklas bekostigbare Afrikaanse onderwys is. AfriForum help om die regte van skole te beskerm. Projekte soos Dink of Sink help met die ontwikkeling van kinders se kritiese denke.
  8. Solidariteit Jeug help jongmense om gereed en voorbereid te wees om die arbeidsmark te betree en om in die mark geplaas te word. AfriForum Jeug wil vervreemding teenwerk en ’n plek bied waar jongmense soos eersteklasburgers voel.
  9. Akademia gaan sy studiesentrums landswyd uitbrei en tussen 30 en 40 nuwe grade akkrediteer. ’n Nuwe kampus, wat 6 000 studente gaan huisves, gaan teen ’n koste van meer as R1,5 miljard gebou word. Die eerste studente wat lesings op die kampus sal kan bywoon, sal reeds in 2021 op ’n tussentydse kampus kan begin klasloop.
  10. Sol-Tech het reeds 1 200 studente in die onderskeie fases van opleiding wat tans vir sewe ambagte voorsiening maak. ’n Nuwe kampus en koshuise gaan teen ’n bedrag van R300 miljoen gebou word. Sol-Tech se kapasiteit gaan verdubbel en sy opleidingsaanbod gaan vergroot.
  11. Die groot bouprojekte word deur die nuwe eiendomsmaatskappy, Kanton, aangepak. Kanton bou lewensruimtes vir Afrikaans en vind ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Beleggers gaan goeie kulturele en finansiële opbrengste kry.
  12. Veiligheid is en gaan ’n groot brandpunt tot 2030 bly. Nuwe tegnologie bring nuwe antwoorde vir veiligheid. AfriForum ontwikkel ’n omvattende beveiligingsantwoord. Tot 2030 gaan buurtwagte tot 200 uitbrei en die getal geregistreerde buurtwaglede tot 20 000. ’n Nuwe sekerheidsmaatskappy word ook gevestig.
  13. Teen 2030 gaan Helpende Hand-takke van 150 tot 190 aangroei. Ondersteuners gaan van 40 000 tot 60 000 toeneem. Die getal Helpende Hand-winkels gaan van 50 tot 80 toeneem. Die getal maatskaplike werkers gaan van 10 tot 30 vermeerder.
  14. Kulturele selfvertroue is van kritieke belang vir die Solidariteit Beweging. Die FAK speel ’n uiters belangrike rol in dié verband. ’n Gebalanseerde weergawe van die Afrikaner se geskiedenis word aangebied. Dit word nie verromantiseer nie, maar dit word ook nie gekriminaliseer nie.
  15. Gesonde rasseverhoudinge en wedersydse erkenning en respek vir mekaar is deurslaggewend. Die uitreik na ander gemeenskappe soos met die Nkandla-gemeenskap en samewerking met die Zoeloe-koning, sal verder uitgebrei word.
  16. S-leer is verantwoordelik vir lewenslange leer. Dit plaas mense op die voorpunt van die kennisgolf. Daar word beplan om teen 2030 honderd kursusse in verskeie vaardighede aan te bied.
  17. ’n Bedrag van R8 miljard gaan oor die volgende 10 jaar gemobiliseer word om al die groot projekte van die 2030-blyplan te finansier.
  18. AfriForum se omgewingsake aanvaar verantwoordelikheid om die reg op ’n skoon en gesonde omgewing te laat realiseer. Dit sluit in om as waghond vir watergehalte op te tree en om te help met rioolsuiweringswerke en afvalbestuur.
  19. Die plan is ’n gemeenskapsplan. Hoe meer gemeenskap en hoe minder staat, hoe meer vryheid is daar. Selfverantwoordelikheid beteken die toekoms is jou verantwoordelikheid. Dít is bevrydend.
  20. Internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging gaan na ’n nuwe vlak gevoer word. Die afgelope vyf jaar is groot sukses in Europa, die VSA en Australië behaal. Die fokus is op steun- en fondswerwing.